Jona 4:1-4
“Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. Hy het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ‘n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het. “Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” Toe vra die Here vir hom: “Het jy rede om kwaad te word?””
Om oor te gesels en te dink
Jona hou nie van die manier wat God werk nie. In sy woede verklaar tog hy wie God is. Hy wil God verkwalik dat Hy genadig en barmhartig is. Maar hy weet ook dis wie God is. Hy wil sy eie optrede teenoor God regverdig. Hy wil moed op gee en sterf.
Tog vra God vir Jona of hy enige rede het om kwaad te word. Per implikasie het Jona geen rede om kwaad te wees omdat God mense red nie en dat Hy van plan kan verander.
Ons is baie keer ook soos Jona. Ons regverdig ons optrede, selfs ons ongehoorsaamheid, as ons God anders werk as wat ons wil hê Hy moet werk. Ons het nie rede om kwaad te wees nie.
Jona verklaar ook dat God genadig en barmhartig is. Ten spyte van sy ontevredenheid kan Jona dit steeds bely.
Gebed
Here, soms voel ek ook kwaad soos Jona, maar ek bely dat U genadig en barmhartig is. Ek het U lief en wil U steeds dien. Amen.