Wees soos Jesus – Vergewe anders.
Lukas 23:34
34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Om oor te gesels of te dink:
- Jesus vergewe anders as die mense van die wêreld. In die oomblik waar Hy deur die wêreld verwerp word. In daardie oomblikke sou niemand sleg van ons gedink het as ons nie die wat ons te na kom vergewe het nie. Maar Jesus is anders. In hierdie oomblik wanneer die seer en verwerping nog so vars is, vra Jesus dat God reeds vergewe. Vergifnis is ‘n wilsbesluit. Vergifnis is ‘n doelbewuste keuse. Vergifnis is ‘n lewe van vryheid.
- Hoe lyk vergifnis? Wat behels dit alles? Waarom vra die Here dat ons ander vergewe? Waarom is dit soms so moeilik om iemand te vergewe? Is daar iemand in jou lewe wat jy nodig het om te vergewe? Is daar iemand vir wie jy vergifnis moet vra? Deel jou hart aangaande vergifnis met die Here.
- Die wêreld is nie geneig om mense te vergewe nie. Die wêreld dra wrokke en hulle harte is bitter. Vergifnis is die salf wat genesing bring vir beide die een wat vergewe en die een wat vergewe word. Is daar iemand wat nodig het om te weet dat jy hulle vryspreek van dit wat verkeerd gegaan het in die verlede? Kan jy vergewe en dit totaal en al agter jou sit?
- Waar het jy Jesus se hulp nodig as dit kom by die manier waarop jy vergewe? Hoe wil jy hê moet Hy jou help sodat mense kan sien jy is meer soos Hy as dit hierby kom?
Gebed:
Here van my lewe,
Leer my vandag om meer soos Jesus te wees.
Ek vra dit met die wete dat ek op een of ander manier teen vanaand in hierdie taak gaan faal. Maar Here, ‘n lewe waarin dit die enigste doel is waarheen ek streef, is nie ‘n lewe wat gemors is nie.
Here Jesus, meer van U, en minder van myself.
Amen.