Markus 1:35-45
Mense eerste; van oral is dit waarna almal smag.
43 Jesus vra die man toe dringend om nie daaroor te praat nie en stuur hom weg: 44 “Moet asseblief nie by mense spog oor wat hier gebeur het nie. Gaan reguit na die priester toe en wys vir hom jy is gesond. As hy tevrede is dat jy gesond is, gaan offer wat Moses se wet voorskryf vir mense wat gesond geword het. Almal sal dan weet dat jy gesond is.” 45 Hy het egter nie na Jesus geluister nie en vir almal wat hy teëgekom het, vertel wat gebeur het. So het die nuus vinnig versprei. Dit het beteken dat Jesus nie meer ongemerk in die dorpies kon gaan rondstap nie. Hy moes buite die dorpies in die omgewing bly waar dit stiller was. Dit het ook nie eintlik gehelp nie, want die mense het van oral af na Hom toe gestroom.
Markus sê in hoofstuk 1 vers 1 dat hy ’n evangelie skryf. Dit is ’n boek met goeie nuus, oor iemand wat belangrik is, wat relevant is vir alle lesers van hierdie boek. Markus maak dit vinnig duidelik dat sy evangelie oor ’n mens gaan, maar dat hierdie mens koning (Christus) is, en dat hierdie mens ook die seun van God is. Voordat ons die einde van die eerste hoofstuk bereik, sien ons ook dat hierdie mens nie net goeie nuus het nie, maar die goeie nuus IS. Waar hy ookal gaan versprei Hy die goeie nuus oor die Koninkryk van God, en Hy is goeie nuus vir mense. Mense soos hierdie melaatse man.
Let op dat hierdie een mens baie vinnig besig is om ’n menigte mense te word. Markus gebruik woorde soos “almal” en “oral”; woorde wat miskien die vraag “was dit regtig so?” in jou laat opkom. As Markus vandag kon antwoord, is ek oortuig daarvan dat hy sou sê “o ja beslis, julle moes dit beleef!”.
Almal, oral in Pierre van Ryneveld en waar ons ookal nog beweeg en leef, is opsoek na goeie nuus. Ons het goeie nuus, ons is goeie nuus! Wanneer ons dit besef, waardeer, ernstig opneem en voorop stel in ons gedagtes en harte gaan ons, soos die man, nie anders kan as om dit vir almal te vertel nie. Dit sal die slegte nuus waarmee ons op soveel maniere en plekke gekonfronteer word eenvoudig uitdoof en oorrompel. Deur die laaste 2000 jaar het hierdie goeie nuus bly staan, terwyl alle ander seisoene van slegte nuus, ontwrigtings en ontnugterings verby gegaan het.
Wonder jy waarom Jesus vir die man gevra het om nie hieroor te praat nie? Ander aardse konings en regeerders, wat evangelies oor hulle self laat skryf het (soos Keiser Augustus in Jesus se tyd, waarvan ons in ons evangelies lees) het staatgemaak op mense om die goeie nuus oor hulle soos propaganda te versprei. Markus toon deur sy skrywe dat Jesus eerder staatmaak op veranderde lewens om die goeie nuus te versprei, en nie net mense se woorde en propaganda nie. Die storie van hierdie man, die Seun van God en dit wat Hy gesê en gedoen het aan ander is genoeg om jou te oortuig volgens Markus.
The greatest danger to the Christian church today is that of pitching its message too low. Dallas Willard