Saterdag 5 Augustus 2023

Lukas 6:43-45
“Dit is nie die goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie die slegte boom wat goeie vrugte dra nie. Elke boom word aan sy eie vrugte geken. Van doringstruike pluk ‘n mens mos nie vye nie, en van ‘n doringbos oes jy ook nie druiwe nie. Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”
‭‭
Om oor te gesels en te dink
As ons as dissipels geroep is om verskil in God se Koninkryk te maak, moet ons na onsself en ons eie geestelike groei omsien. Hierdie teksgedeelte in Lukas kan ons weerloos en skuldig laat voel. Dit kan ons laat wonder oor die vrug in ons eie lewe. Wat gaan in ons harte aan? Verklap ons ‘mond’, dade en houding nie juis dit wat ons harte van vol is nie? Miskien glo ons die Goeie Nuus, of nie. Miskien is ons bang om nie te glo nie. Ongeag ons motivering, ons rede om volgelinge van Christus te wees, is leeg as ons harte nie as volgelinge warm brand nie. Hoe kan ons woorde en dade outentiek en sonder ‘moeite’ wees as dit nie ‘n hartsaak is nie?

Neem vandag ‘n oomblik om ‘n paar woorde op papier neer te skryf waarom dit vir jou ‘n hartsaak is om Jesus te volg. Nie die regte antwoorde wat jy dink iemand verwag nie. Nee, die opregte, weerlose en outentieke redes waarom jy ‘n volgelinge van Jesus is. Miskien gaan dit jou meer as ‘n dag vat om hierdie woorde te kan neerskryf, maar probeer om deur te druk om jou eie hart te hoor, in gebed.

Gebed
Here, hoor my hart vandag. Ek sukkel dalk vandag om die mooi woorde te vind waarom ek glo. Maar Here, ek glo. Help my in my tye van ongeloof. Help my hart om gevorm te word vir U.  Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika