Openbaring 21:3-5
Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”
Om oor te gesels of dink
Aan die einde van die boek Openbaring vind ons die tweede keer wat God self aan die woord is. Eers is daar ’n stem van die troon af wat die versekering gee dat God by ons sal wees en dat Hy ons God sal wees.
Die dood gaan nie meer heers nie en Hy sal al ons trane afdroog. Die ou dinge het verby gegaan. God self sê: “Kyk, Ek maak alles nuut!”
Dit is vir ons ’n troos en verlange dat dit gaan gebeur.
Ons kan weet dat God ons nooit alleen laat nie en dat Hy altyd by ons is. Hierdie wete is moeilik om te verstaan, maar juis laat dit ons kans sien vir die toekoms.
Neem ’n oomblik van stilte
Wat het jy hierdie week van God geleer?
Voel jy minder angstig omdat jy weet God is in beheer?
Gebed
Here God, dankie vir die belofte dat U alles sal nuut maak. Dankie dat U by ons sal wees. Dankie dat ek kan kans sien vir wat vir my voorlê. Amen.