Saterdag 8 Oktober 2022

Matteus 18:22
22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.

Om oor te gesels of te dink:

  • Jesus se antwoord op Petrus se vraag oor vergifnis is dat ons sewentig maal sewe keer moet vergeef. Die idee is dat ons vergifnis, nie werklik getel moet word nie. Ons moet so vrygewig daarmee wees dat daar altyd meer vergifnis is. Ons moet nie boek hou van hoeveel keer ons vergewe het nie. Dit is nie ‘n wet wat tot op die presiese getal uitgevoer moet word nie, maar spreek meer van ‘n ingesteldheid wat meer en meer vergewe.
  • Die rede hiervoor is nie net ten gunste van ander wat die vergifnis ontvang nie, maar werklik vir ons wat vergewe. Wanneer ons vergewe is ons vry. Ons harte hoef nie vas te hou aan die bitter, seer en swaarkry nie. Ons is vry om aan te beweeg, lief te hê en te genees. Ons hoef ook nie kop spasie op te neem met berekeninge van hoeveel keer is nou genoeg nie. Ons kan fokus op die Here en lewe in oorvloed.
  • Is jy steeds besig om vas te hou aan woede, seerkry, onvergenoegdheid? Is daar redes waarom jy nie wil of kan vergewe nie? Terwyl die persoon met hulle lewe aangaan is jy vasgevang in hierdie ONvergifnis. Hoe laat dit jou werklik voel? Dien dit jou?
  • Hoe sou dit wees indien jy alles vergewe en agter jou sit? Nie meer daaraan dink nie? Hoe sou dit jou beinvloed? Jou sou jou lewe kon lyk? Deel jou hart met die Here.

Gebed:
Here, ek wil nie meer vasgevang wees in hierdie haat, kwaad, seer en stoei nie. Here help my om ander te vergewe. Help my om dit so vrylik te gee, soos U dit vir my gegee het. Here help my om nie meer te bekommer oor dit wat my hart gevangene hou nie. Here, help my asb om dit agter te laat.
Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika