Matteus 11:28-30
28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30 My juk is sag en my las is lig.” (Mat. 11:28-30)
Om oor te gesels:
Hierdie is seker een van die bekende uitnodigings van Jesus, maar ook een van die moeilikstes. Ons sukkel om te rus en oor te gee. Lees hierdie teks in die Boodskap vertaling en mag dit jou inspireer vir die jaar wat voorlê.
“Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek.
“Kom luister na wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê.
29 “Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef.
“Dis nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, 30 as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.”
(Mat. 11:28-30 Die Boodskap)
Gebed
Here, hierdie is my begeerte en wens vir die nuwejaar. Mag ek die sin en vreugde van die lewe saam met U ontdek. Amen.