Johannes 1:47-49
Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ‘n ware Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie.” Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.” Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”
Om oor te gesels en dink:
Natanael besef wie Jesus werklik is in hierdie oomblik. Hy roep sommer net daar sy belydenis uit. ń Diep bewuswording dat Jesus die Een is wat hy ook moet volg, naamlik sy Rabbi. Tweedens bely Natanael dat Jesus die Seun van God is. En derdens bely hy dat Jesus die Koning is. Hierdie omkeer moment en belydenis is om van fees te vier! Dat Jesus ons Koning is, is ook genoeg rede om fees te vier!
Neem ‘n oomblik van stilte.
Vandag word jy nes Filippus en Natanael genooi om te Kom kyk, kom bly, kom volg, gaan deel en fees te vier!
As gelowiges vier ons gereeld fees, want Jesus is die Koning. Ons doen dit op verskeie maniere. Kan jy vandag aan so geleentheid dink?
Ons vier veral fees wanneer ons saam Nagmaal vier. Wat in opsigself, nes Natanael, ń belydende oomblik is. Jesus is ons Rabbi, Seun van God en Koning.
Gebed
Here Jesus, U is die Koning van my lewe. Dit is nie ń straf om U te dien nie, selfs nie wanneer dit moeilik gaan nie. Help my om raak te sien dat ek vandag genooi word om fees te vier – want U is die Koning van die heelal en my lewe. Amen.