Kolossense 1:3-8
3Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle 4omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. 5Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. 6Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. 7Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en 'n getroue dienaar van Christus in julle belang. 8Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.
Om oor te gesels of te dink:
- Die regte definisie van ‘n Waterskeiding is ‘n hoër gedeelte of berg wat water skei. Dit ix nie indrukwekkend, aardskuttend nie. Ons bly op so ‘n hoogte in Pretoria. Ons is besig om ons hele lewe op so ‘n Waterskeiding te leef. Elke gewone oomblik leef ons ‘n Waterskeidings Moment, wat ongesien verby gaan. Hier is nie borde op wat die Waterskeiding aandui nie. Hier is nie toeriste wat kom kyk hoe die Oranje rivier en die Limpopo Rivier van mekaar geskei word nie.
- Paulus skryf vir die mense van Kolosse oor ‘n Waterskeidings Moment wat moontlik by hulle ook verby gaan. Die geloof in Jesus as persoonlike verlosser is die gelowiges se Waterskeidings Moment. Dit is die bepalende faktor wat hulle hele lewe verander. Dit bepaal hoe hulle leef, werk, vir ander omgee en daagliks vrug dra.
- Is jou Waterskeidings Moment dalk ook so gewoon, dat jy nie eers bewus is daarvan nie. Hoe het jou verhouding met Jesus ‘n Waterskeidings Moment vir jou geword? Hoe bepaal dit die keuses wat jy daagliks maak? Hoe bepaal dit jou gedagtes, woorde en optrede? Deel jou hart met die Here.
- Is hierdie Waterskeidings Momente so ordiner dat jy hulle verby kyk? Is dit moontlik dat die mense in jou lewe na jou sal kyk en kan sien hoe Jesus die Waterskeidings Moment in jou lewe is? Of leef jy so, dat niemand sou weet Jesus is die Waterskeidings Moment in jou lewe nie? Deel jou hart met die Here.
Gebed:
Here van my lewe,
Ek wil soms so graag hê dat my lewe moet bestaan uit buitengewone oomblikke en wonderwerke wat U teenwoordigheid so mooi uitwys. Here, help my om te vrede te wees met U stil, vredevolle en magtige teenwoordigheid in my daaglikse kom en gaan. Here, dankie dat U elke oomblik, ongeag hoe ordinêr dit is, saam met my gaan.
Amen.