Vrydag 13 Oktober 2023

Lukas 19:1-10
Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man. Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis!” Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.””

Om oor te gesels en te dink
Jesus ontmoet vir Saggeus terwyl hy net nuuskierig was oor Jesus. Jesus keer sy hele lewe om toe hy Hom met blydskap ontvang. Saggeus besluit om die onreg wat hy as tollenaar gepleeg het, reg te stel. Hy onderneem om te begin weggee. Lukas vertel ons van die positiewe reaksie wat Saggeus op Jesus het. Dit staan in kontras met die ryk jongman van Lukas 18 wat nie kans gesien het om Jesus te volg nie.
Dit bly ’n proses vir ons as volgelinge van Jesus om ook ligter te leef en nie aan besittings vas te klou nie. Dit is nodig dat ons met oop hande en harte leef en help waar ons kan. Wanneer ons in afhanklikheid van Jesus leef, dink ons anders oor wat ons het en deel ons wat ons het met ander.

Gebed
Here Jesus, ek wil U bly volg. Wys my hoe ek meer van U hart kan wys met dit wat ek het. Ek met oper hande leef. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika