Johannes 20:24-25
24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Om oor te gesels en te dink
Jesus verskyn aan die dissipels na sy Opstanding, maar Tomas is nie by hulle nie. Hulle is opgewonde om met hom te deel dat hulle die Here Jesus gesien het. Tomas deel egter nie hulle opgewondenheid nie. Hy het ‘n klomp vrae en wil amper uitdagend sê dat hy nie kan glo wat hy hoor nie. Daarom wil hy bewyse sien. Hy gebruik dit as verskoning sonder om toe te laat om dit te ondersoek. Dit is amper ’n voorwaarde voordat hy wil glo.
Baie keer is ons ook soos ‘n Tomas – as ons nie kan verklaar wat gebeur nie, wil ons dit nie aanvaar nie. Selfs ook in ons geloofslewe. Ons ken ook mense wat so oor geloof dink. Hulle gebruik hulle vrae as verskoning om nie te wil glo nie.
Tog is hierdie nie die einde van Tomas se verhaal nie. Ons kan vrae vra en dit vir die mense om ons sê, maar laat ons dit ook na die Here self toe vat. Hy verstaan dat ons vrae en twyfel het. Twyfel is welkom en deel van die geloofspad wat ons stap.
Gebed
Here, ek wil ook partymaal eers sien, maar help my om U steeds te volg met my vrae en my twyfel. Amen.