Lukas 5:27-29
“Daarna het Jesus uitgegaan en 'n tollenaar met die naam Levi by sy tolhuis sien sit, en Hy sê vir hom: “Volg My.” Hy het alles net so laat lê en opgestaan en Jesus gevolg. Levi het 'n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en 'n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit.”
Om oor te gesels en te dink
Jesus skroom nie om by randfigure stil te staan nie. Tollenaars was gehate persone omdat hulle bekend was vir uitbuiting. Tog sien Jesus mense soos Levi raak en roep hom om Hom te volg. Hy reageer dadelik en los alles om Jesus te volg. Levi gaan verder om die nuus bekend te maak deur ‘n groot feesmaal vir Jesus te hou. Hy nooi ander tollenaars en mense wat nie hoë aansien gehad het nie. Hulle is almal welkom by Jesus aan tafel. Jesus herinner die Fariseërs wat Hom hieroor veroordeel dat Hy nie gekom het vir mense wat dink hulle Hom nie nodig het nie, maar vir mense wat erken dat hulle Hom nodig het.
Jesus roep ons om Hom te volg, al dink ander mense dat ons dit nie waardig is nie. Jesus gee nooit op ons op nie.
Gebed
Jesus, dankie dat U mense roep, al dink ons hulle verdien dit nie. Dankie dat U my geroep het. Ek wil U bly volg. Amen.