Lukas 13:6-9
“Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “’n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’ Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.””
Om oor te gesels en te dink
Jesus vertel ‘n gelykenis van die onvrugbare vyeboom om vir ons te wys dat daar altyd nog genade is. Die tuinier neem verantwoordelikheid om toe te sien dat die vyeboom vrug sal dra deur ekstra moeite te doen. Die tuinier gee om wat met die vyeboom gebeur. So gee Jesus ook oor elkeen van ons om. Daar is altyd nog ‘n kans vir genade. Jesus is in ons lewens betrokke om ons te laat groei en vrug te dra. Selfs as ons daarmee sukkel, los Jesus ons nie uit nie.
Gebed
Here Jesus, dankie dat U genade nooit ophou nie. Dankie dat U altyd weer probeer. Mag ek vandag U genade opnuut weer vir ander en myself ervaar. Amen.