Leef in Waarheid – Geanker in gawes
Efesiërs 4:9-16
9Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. 10Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. 11En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.
Om oor te gesels of te dink:
Gebed:
Vader, ons word van jongs af geleer om te bid. Vader ek vra vir U om my te wys hoe om te bid in gees en waarheid. Leer my om te bid Here, soos U wil hê ek moet bid.
Here, ek bid dat my menslike gees gelei sal word deur U Heilige Gees. Here ek vra vir U leiding deur Jesus Christus wat my hele lewe in beheer geneem het. Mag U Seun my stuur volgens U wil. Ek bid Here dat my menslike wil gehoorsaam en onderdanig aan U Gees van Waarheid sal wees. Mag ek leer om hierdie Gees van Waarheid sensitief na te volg.
Here, soos ek voor U kniel in nederigheid en aanbidding wil ek U naam groot maak vir die voorreg om te mag bid. Ek bid dat U my gebede sal toets aan die waarheid van U Woord. Here ek vra dat dit waarvoor ek vra in lyn sal wees met dit wat op U hart en in U wil is. Here, mag my hart brand vir dit wat U hart voor brand.
Here, leer my om te bid in gees en waarheid. Mag my versoeke ‘n soet smaak en gunstige geur vir U wees. Hierdie is my hart se behoefte. Ek bid dit in U naam, die Weg, die Waarheid en die Lewe.
Amen.