Vrydag 16 Oktober

Jesus is DIE WEG (en nie “weg”) as ons opdraend loop nie!

Skriflesing: Lukas‬ ‭23:32-34‬ ‭DB‬‬

Jesus is nie alleen gekruisig nie. Twee terroriste is ook saam met Hom daar op Golgota, “die Plek van die Kopbeen”, gekruisig. Hulle kruise is aan weerskante van Syne in die grond ingeplant. Daar aan die kruis het Jesus hardop vir God gesê: “My Vader, vergeef hierdie mense. Hulle weet glad nie waarmee hulle nou besig is nie.” Maar die soldate het hulle nie aan Hom gesteur nie. Hulle was te besig om sy klere onder mekaar te verdeel deur lootjies te trek.”

Dink oor:
Het jy ook al weens onreg of kwaadwilligheid op die lewe se opdraend beland? Ongelukkig, in vandag se wêreld, is dit meer die reël as die uitsondering. Dis maklik om teen so ‘n opdraend bitterheid en wraaksug teen die “skuldiges” te vertroetel.

Ons sien in ons teks hoe Jesus hier in die uur van Sy bitterste lyding Homself losmaak van wraak en bitterheid, deur vergifnis uit te spreek. Te midde van die leedvermaak, sweet en suur asems van sy martelaars.

Met vergifnis bevry jy …. JOUSELF! Dit verklaar niemand onskuldig nie, dit neem net die mag van ander oor jou weg, en daarmee saam ‘n groot deel van die pyn van die opdraend.

Gebed:
Bid hierdie GEBED elke uur (stel vir jou ‘n wekker op jou foon) tot vanaand slaaptyd:

Here, dit voel vir my onmoontlik om my “martelaars” te vergewe. Help my Here! Ek wil sien en verstaan wat vergifnis is en dat dit my vrymaak. Heilige Gees, verander my hart. Ek wil die opdraend met mening kan uitstap.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika