Jesaja 40:27-31
27Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? 28Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. 29Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. 30Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, 31maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
VRAE:
- Talle skrywers in die Bybel verwys altyd na die probleme wat daardie mense in ‘n spesifieke situasie beleef. Wanneer hulle vrae het of antwoorde soek, kyk hulle altyd terug na wie God is, wat Hy gedoen het en hoe Hy getrou was in alle omstandighede. Hier in Jesaja sien ons ook hoe h terugkyk na wie God is. God is die een wat van die begin af alles geskep het. God is die een wat nooit moeg word nie, nooit afwesig is nie. God se karakter, identiteit en handelinge in die verlede herinner ons elke keer wat ons kan verwag nou.
- Wie is God vir jou? Wat het God al vir jou gedoen in die verlede? Hoe het God jou al voorheen ontmoet? Skryf vir jouself ‘n lys van ervarings met die Here. Herinner jouself aan wie God is. In dit beleef jy ook weer wie jy is. As God getroue Vader is, is jy Sy geliefde kind. Deel jou hart met die Here.
- Indien jy nog nie genoeg ervaring saam met die Here gehad het nie, kan jy ook terug kyk na ander se belewenis saam met God. Vra vir jou medegelowiges hoe hulle God beleef. Luister na potgooie van mense wat God beleef en van Hom getuig. Ommring jou met mense wat ook die here ken en vra vir hulle ervarings. Dit gee weer hoop. Dit bring weer perspektief. Dit gee weer vir jou eie geloof nuwe inspirasie. Met wie kan jy praat oor hulle ervarings van geloof?
Gebed:
Here, ek vergeet soms wie U is. Ek is so besig om op alles om my te fokus dat ek nie onthou wie U nog altyd was nie. Here, help my asb. om weer te fokus op wie U is.
Amen