Johannes 17:18-20
“Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees. “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom.”
Om oor te gesels en te dink
Jesus bid vir sy dissipels en dit word in hierdie gedeelte van Johannes vasgevang. Hy sê in Sy gebed dat Hy (Jesus) na die wêreld gestuur is en so ook het hy Sy dissipels gestuur (na die wêreld). In Jesus se gebed bid Hy ook vir die volgende volgelinge wat deur die dissipels se woorde tot geloof sal kom.
Ons is ook gestuur en ingesluit in hierdie groot opdrag. Ons woorde en dade moet daartoe lei dat ander tot geloof sal kom en selfs in hul geloof sal verdiep. God is reeds besig met mense. Ons word genooi en gestuur om daarheen te beweeg. Om daar te wys na God en waar God aan die werk is.
Gebed
Here, wys my waar U my stuur vir die volgende paar dae. Heilige Gees, gee aan my die woorde en dade sodat ander tot geloof kan kom of selfs in geloof kan verdiep. Amen