Vrydag 22 September 2023

Lukas 15:25-30
Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’ “Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek 'n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers 'n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!

Om oor te gesels en te dink
Die oudste seun was eintlik ook verlore gewees. Sommiges noem hierdie die gelykenis van die twee verlore seuns.
Hy was kwaad. Hy voel dat sy pa onregverdig optree om die jongste broer, wat hy nie sy broer wil noem nie, terug te verwelkom.
Die oudste voel dat hy meer verdien omdat hy alles nog altyd reg gedoen het. Hy voel selfvergenoegd en self voldaan. Hy verkwalik sy pa.
Hierdie oudste seun wys vir ons die gesindheid van die Fariseërs uit. Hulle het gedink hulle doen alles reg, maar het die punt van genade gemis. Ons is soms nie veel anders nie. Ons wil aandring op wat die Here vir ons moet doen. Ons laat nie ruimte dat God se genade anders werk nie, veral nie aan mense wat ons dink dit nie verdien nie.
Ons moet onsself gereeld ondersoek dat ons nie soos die oudste broer is wat op alles wil aanspraak maak en self die punt mis nie.
Die pa het deernis met die oudste seun en verwelkom hom ook. Ons is ook altyd welkom by die Vader.

Gebed
Vader, soms is ek soos die oudste broer wat voel alles is onregverdig. Ons verstaan nie genade nie. Dankie dat U genade steeds vir my ook genoeg is. Amen.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika