Matteus 6:33
“Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Om oor te gesels en dink
Jesus sê die geheim van die lewe is om jou allereers vir die koninkryk van God te beywer. Die 1953 vertaling sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
In plaas daarvan om jou te bekommer, maak God die koning van jou lewe en soek sy geregtigheid. Doen die dinge wat God graag wil hê ons moet doen. Dit beteken dat ek daar waar ek besig is, sal help om God se koninkryk te laat gebeur.
Jesus moedig ons aan om God in die middelpunt van ons lewe te plaas en ons nie verniet moeg te maak met bekommernis nie. ’n Japanese spreekwoord lui: “As jy vergenoegd is, is jy ryk genoeg!” Dit gaan nie oor geld nie, maar ’n ingesteldheid. Wanneer ons op God en sy dinge fokus, kan ons die lewe waardeer.
*Wat kan jy vandag doen om God se koninkryk te soek?
*Wat kan jy vir iemand doen om God se liefde te wys?
Gebed
Here Jesus, ek wil U koninkryk soek. Help my om U in die middelpunt van my lewe te plaas. Help my om altyd die regte dinge te doen wat vir U belangrik is. Amen.