Psalm 23:1-3
“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.”
Om oor te gesels en te dink
Hierdie week het ons saam nagedink oor Jesus wat ons goeie Herder is. Die goeie Herder wat sy lewe vir ons afgelê het. Ons het gereflekteer daaroor dat ons lewe reeds anders is, omdat Jesus aan die kruis gesterf het (vir elkeen van ons) en uit die dood opgestaan het. Ons het ook nagedink oor ons verhouding met God en dat ons die goeie Herder se stem ken. Verder het ons nagedink oor wat ‘oorvloed’ beteken. Hierdie teks in Psalm 23 is ‘n tipe van ‘n belydenis. ‘n Belydenis dat van iemand wat glo dat hy/sy nie iets kort kom nie. En dat God hom/haar lei na ‘waters waar daar vrede is’.
Sondag het ons gevra wat sal ‘okay’ vir jou beteken? Nie oorvloed in materialisme nie, maar om ‘okay’ te wees? In die woorde van Psalm 23, wat sal dit in jou lewe op die oomblik beteken om niks ‘kort te kom nie’? Om by ‘waters te wees waar daar vrede is’?
Gebed
Here, ek wil graag vandag deel wat ek nodig het. Nodig het om ‘vrede’ te kan beleef. Ek sukkel, worstel, wonder oor… Vandag plaas ek dit by U voete en smeek om vrede. Ek wil graag ‘okay’ wees. En wil graag niks kort kom nie. Help my asb. om na te dink oor wat dit in my lewe sal beteken en spsifiek daarvoor vir U te vra. Dankie dat U my goeie Herder is. Amen