1 Johannes 1:6-7
As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.
Om oor te gesels of dink
Johannes moedig ons ook aan om in die lig te lewe. Ons dade moet met ons woorde ooreenstem. Ons is ligdraers. As ons dit nie doen nie, vertaal Die Boodskap: “Dit is soos mense wat sê hulle hou net van die lig, maar as jy hulle soek, sit hulle in die donker.”
Ons het deel aan hierdie familie van God as ons doen wat Jesus van ons verwag.
Die versekering is dat terwyl ons in die lig lewe, ons gereinig word deur die bloed van Jesus. Beteken dit dat ek nooit gaan verkeerd doen nie? Nee, maar Jesus maak dit juis moontlik dat ons deel van familie bly en dat Sy lig in ons lewens sigbaar bly.
Gebed
Here Jesus, ek wil in U lig lewe. Ek wil nie in duisternis lewe nie. Dankie dat ek deel van U familie kan wees. Mag my lig vandag helder skyn. Amen.