Lukas 24:28-32
Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn.Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”
Om oor te gesels en te dink
Wanneer hulle by Emmaus aankom, nooi hulle hierdie “vreemdeling” wat vir hulle die Skrif uitgelê het, gasvry in. Min wetende dat die gas, die Gasheer word en dat die vreemdeling hulle Vriend word.
Nadat Jesus die brood gebreek het en saam met hulle dit gedeel het, het hulle besef dat dit Jesus is. Dit verander hulle lewe as hulle besef dat Jesus opgestaan het en leef. Hulle getuig dat hulle harte warm geword het. Dis ’n beeld om te verduidelik dat hulle die ware Jesus herken en ontmoet het.
Ons is ook soms in sulke situasies dat ons nie dadelik nie, maar later besef dat ons die Here gesien het en ons harte warm geword het.
Gebed
Here Jesus, dankie dat U leef! Dankie dat U my hart warm maak en ek besef dat U by my is. Mag ek U meer raak sien waar ek is. Amen.