Johannes 6:16-21
“Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan, in 'n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar 'n sterk wind gewaai het. Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.” Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.”
Om oor te gesels en dink:
Jesus het pas die vorige wonder van die vermeerdering van die brood gedoen en dan vind die wonder plaas waar Jesus op die water loop. Matteus 14:22 en Markus 6:45-52 het ook hierdie wonder opgeteken. Hulle beskryf dat die dissipels gedink het dat Jesus ’n spook is. Volgens Matteus evangelie wou Petrus self ook na Jesus toe loop.
Jesus stel egter Sy dissipels gerus met die woorde: “Dit is Ek, moenie bang wees nie.” Daarna laat hulle Jesus toe om in die skuit te klim, want hulle het Hom nie dadelik herken nie. Die storm het bedaar.
Ons beleef ook storms en is bang. Ons herken Jesus nie altyd nie. Hy kom sê vir ons ook dat ons nie hoef bang te wees nie, want Hy is by ons.
Gebed
Here Jesus, ek voel soms oorweldig deur die storms. U doen die wonder om na my toe te kom en my rustig te maak. Mag ek vandag U vrede beleef en nie onnodig bang wees nie. Amen