Vrydag 30 Julie

Markus 1:35-45

Mense eerste; want jy is ook ’n mens.

41 Dit het Jesus diep geraak. Uit meegevoel raak Hy aan die man en sê: “Ek wíl dit doen. Word gesond.” 42 Daar en dan het hy gesond geword. Sy vel was weer soos ’n normale mens s’n.

Ons het 11 stories in die evangelies van Jesus wat meegevoel met iemand het. 11 Keer ervaar Hy deernis wanneer Hy met mense te doen het, 11 keer het Hy empatie met iemand. (Die 12de storie waarin ons hierdie emosie aantref en hierdie Griekse woord vind is die storie van die barmhartige Samaritaan.) Daar staan in die oorspronklike teks dat Jesus se maag gedraai het, dat Hy tot in Sy diepste vir die man gevoel het.

Het jou maag al gedraai uit meegevoel vir iemand? Waarom?

Om empatie met iemand te hê beteken om iemand anders se emosie/gevoelens/situasie self te ervaar, aan en in jou eie lyf. Dit is meer as om dit net te verstaan met jou kop, dit is om dit te voel. Die man het Jesus gesmeek, en Jesus het dit self ervaar toe Hy met die man te doen gehad het.

Waarom kon Jesus hierdie man se emosie self ervaar?
Want Jesus was ’n mens.
Die melaatse man ook.
Ek is ’n mens, en jy ook.
Almal met wie ons daagliks te doen het, is ook mens.
Hy/sy is ook ’n mens…

Hierdie emosie van Jesus het gelei tot aksie, en Hy het die man aangeraak. Dit het die man se lewe vir altyd verander! Nie net het hy gesond geword nie, maar hy kon weer terugkeer na sy huis en sy mense; sy lewe is herstel saam met sy lyf. Sy menswaardigheid is herstel, juis omdat hy menswaardig deur Jesus hanteer is.

  • Hanteer jy mense soos mense?
  • Herken jy die beeld van God in alle mense (en ook in jouself)?
  • Sal jy vir Jesus vra om jou te help om na mense deur Sy oë te kyk?

“Rarely can a response make something better, what makes something better is connection.” Brené Brown.

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika