Openbaring 1:17-18
“Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”
Om oor te gesels of dink
Johannes beskryf vir ons hoe Jesus aan hom verskyn het (Opb 1:12-16). Hy gebruik beelde om Jesus se belangrikheid, wysheid en heerlikheid te verduidelik.
Hy kan nie anders as om in respek Hom te wil aanbid nie. Hy voel nie waardig nie, maar Jesus praat met hom sê dat hy nie bang moet wees nie. Hy is die Eerste en die Laaste, die Lewende. Hy het die dood oorwin en hoef hy en ons nie die dood te vrees nie. Hy het die sleutels van die dood en doderyk by Hom.
Dit herinner aan die Here God wat self ook gesê het dat Hy die Alfa en die Omega is.
Hierdie openbaring wat Johannes deel kan vandag vir ons die rustigheid gee dat Jesus by ons is. Ons hoef nie bang te wees nie.
Neem ’n oomblik van stilte
Wat ervaar jy as jy hierdie woorde van Jesus hoor?
Gebed
Here Jesus, ek wil ook net voor U buig. Ek weet nie wat om te sê nie. Dankie vir die troos dat ek nie hoef bang te wees nie. Dankie dat U die Eerste en die Laaste, die Lewende is. Amen.