Vrydag 8 September 2023

Matteus 11:28-30

30 My juk is sag en my las is lig.”

Dink vir ’n oomblik hieroor: Jesus sê Sy interpretasie van die wet, dit is wat Sy “juk” is, is sag. Hy sê ook Sy “las” is lig.
Het jy al Matteus 5-7 gelees, waarin Jesus sekere belangrike wette herinterpreteer, en dit op die oog af nog moeiliker maak om dit te gehoorsaam?
Hoe dan nou gemaak met hierdie vers?

Dit is betekenisvol om vir ’n oomblik by die vers stil te staan. Die woord “sag” kom net hier in Matteus voor. Die woord “las” kom net nog eenkeer voor in Matteus, en dit is wanneer Jesus in Matteus 23:4 sê dat die Fariseërs se las “swaar” is.
So wat maak Jesus se juk sag en Sy las lig?

Sy teenwoordigheid! Dink so daaroor: dink aan die verskil tussen 50kg op jou rug dra (in ’n rugsak soos in die foto hierbo), en 50kg sleep in ’n waentjie met 4 wiele en ’n groot genoeg handvatsel vir twee mense om dit te trek. Laasgenoemde is baie makliker en “ligter”, al bly die gewig van dit wat jy saamdra presies dieselfde. Sien jy dit?

Om gehoorsaam aan Jesus te wees vra beslis iets van ons, trouens dit vra ons hele lewens, maar Jesus dra die las saam met ons, en dit maak dit doenbaar, sag en lig. Onthou, Hy het aan die begin gesê dat die pad van dissipelskap begin deur na Hom toe te kom, en dan Sy juk op jou te neem. Die persoonlike verhouding is die beginplek. Van daar stap Hy die pad saam ons.

Jy mag dalk vra hoe? Wel, deur die spesiale teenwoordigheid van die Heilige Gees in die lewe van elke gelowige. Meer hieroor more.

  • Ervaar jy Jesus se juk as sag en Sy las as lig?
  • Ken jy die spesiale teenwoordigheid van Heilige Gees in jou lewe?

’n Eenvoudige gebed vir jou dag:
Here Jesus, maak my asb bewus van hoe sag U juk is, en hoe lig U las is.

“He leads the way, keep close to him.” Dietrich Bonhoeffer

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika