Psalm 14:5-6
Omdat God aan die kant van die regverdiges is, sal daar niks kom van julle planne teen die hulpelose nie: die Here bly sy toevlug.
Psalm 53:5-6
God sal die bene van dié wat teen sy volk wil veg, op die slagveld verstrooi. Sy volk sal hulle op die vlug laat slaan, want God het hulle verwerp.
Om oor te gesels:
- Ons sien raak, wat ons kies om op te fokus. Ons brein is so gemaak en geprogrameer om meer bewus te word van dit wat ons meer gereeld ons aandag opsit. Dit is waarom ons skielik motors uitken wat dieselfde is as ons eie of ‘n geliefde. Dit is waarom ons resoneer met mense wat soortgelyke stories het as ons eie. Ons sien dit raak en hoor dit raak, omdat ons fokus reeds daar is.
- Die Psalmdigter kon Psalm 14 so geskryf het dat hy fokus op die swaarkry en seerkry van die regverdiges. Hy kon uitbrei op die regverdiges se lot en omstandighede. Die Psalmdigter kon Psalm 53 so geskryf het dat hy fokus op wat die onregverdiges alles doen. Hy kon meer gedeel het oor hoe hy voel teenoor die onregverdiges. Tog kies beide Psalmdigters om te fokus op God se handelinge met die regverdige en onregverdige.
- Waarop fokus jy tans? Waarvan is jy meer bewus?
- Kies vandag om net te fokus op God, in elke situasie. Begin die gesprek met God. Kies om vandag jou aandag te draai na God, eerder as op die omstandighede en ander mense.
Gebed:
Here, wanneer ek my oë van U afhaal, is ek net bewus van die swaar, die seer, die moeilike, die onregverdige, die leemtes. Dit trek my oog. Here, vandag wil ek vra dat ek my oog terugbring na U. Help my om te kies om U raak te sien in alles, in almal en oral.
Amen