Lukas 1:14-20
Hy sal 'n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here 'n volk voor te berei.” Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is 'n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.” Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring. Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”
Om te gesels en dink:
Sagaria ontvang die profesie oor sy seun Johannes dat hy ’n bron van vreugde sal wees en groot in die oë van die Here. Hy word met Elia vergelyk wat voor Jesus sou uitgaan om versoening te verkondig en mense na die Here te roep.
Sagaria twyfel aan hierdie belofte en word hy met stomheid getref. Eers na Johannes se geboorte kan hy weer praat.
Ons kan ook met Sagaria vereenselwig. Ons hoor iets van die Here en betwyfel dit dan. Hoe is dit moontlik? Hoe gaan dit uitwerk? Ons wil ook vra: “Waaraan sal ek dit weet?” Ons wil verskonings gebruik as ons onseker is.
Ons word nie met stomheid geslaan nie, maar baie keer staan ons verstom oor dit wat die Here doen ten spyte van ons twyfel en ongeloof.
Gebed
Here, ek wonder ook soms soos Sagaria. Ek mis die beloftes wat U gee en dan wil ek op my eie probeer uitvind wat ek moet doen. Help my om U te vertrou. Laat ek nie aan verskonings vashou en mis hoe U in my lewe besig is nie. Amen.