Woensdag 1 Februarie 2023

Matteus 25:34-35
34“Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,… 35c Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves;

Om oor te gesels of te dink:

  • Hoe lyk dit om ‘n vreemdeling te wees? Hoe voel dit om ‘n vreemdeling te wees? Was daar al ooit ‘n geval waar jy vreemdeling was vir ‘n geruime tyd? Wat gebeur binne jou gedagtes? Wat het jy nodig om veilig, tuis, welkom, versorg te voel? Deel sommer jou gedagtes met die Here.
  • Mense in hierdie wêreld, kry daagliks redes waarom hulle soos vreemdelinge voel. Die wêreld laat ons almal verstaan dat ons op een of ander manier nie inpas nie, nie welkom is nie en nie behoort nie. Ons almal se diepste behoefte is vir liefde en om te behoort. Ons soek dit selfs op die verkeerde plekke by die verkeerde mense. Waar sien jy mense wat nie voel asof hulle behoort nie? Waar sien jy mense wat soos vreemdelinge voel?
  • Ons het elke dag geleenthede om mense te laat welkom voel, tuis te laat voel, geliefd te laat voel, veilig te laat voel, te laat voel asof hulle behoort. Ons kan dit fisies in ons huis doen, maar ook in ons verhoudings kringe, in ons sirkel van invloed en in ons Geloofsfamilie. Is jy, jou huis, jou vriendekring, jou werk omgewing, jou Geloofsfamilie ‘n plek waar mense gehuisves kan word? Watter getuienis is daarvan?
  • Watter verskil het dit in jou lewe gemaak toe mense jou laat veilig voel, welkom voel, geliefd laat voel, tuis laat voel? Het jy mense in jou lewe wat jou kan help om meer gasvry te wees teenoor die mense wat vreemdelinge is? Waarmee het jy steeds hulp nodig as dit kom by mense huisves in jou spasie en in jou hart? Deel met die Here jou hart.

Gebed:
Here van my lewe,
Ek besef dat ek soms baie huiwerig is om vreemde mense, mense wat anders is as ek, te verwelkom en tuis te laat voel in my lewe. Ek besef Here dat ek myself wil beskerm, dat ek dalk bang is of net onbevoeg voel om dit te doen. Here, dankie dat U vir my tuis laat voel het, toe ek ‘n vreemdeling was. Dankie dat U vir my mense in my ewe gestuur het, wat my nie soos ‘n vreemdeling hanteer nie. Here, help my asb. om nou ook hierdie gawe vir ander te bied.
Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika