Woensdag 10 Maart

Matteus 6:9-13

10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Is ons betrokke in die koms van God se koninkryk hier op aarde?
Is dit iets wat ons kan laat gebeur?
Is dit iets wat net God kan doen?
Wat is ons rol hierin?

Ons is betrokke in die koms van God se koninkryk hier op aarde deur ons gehoorsaamheid aan Hom. Wanneer ons wil wat Hy wil dan tree ons op onder Sy gesag, volgens Sy opdragte en raak Sy heerskappy en sy koninkryk sigbaar vir alle mense. Sy koninkryk word ’n realiteit, hier en nou.

So hoe doen ons dit? Ek dink die beste en die eenvoudigste manier om dit te beskryf is om te sê dat God se doen en late ons doen en late word. Dat daar tussen die handelinge van God en die handelinge van die mens (ek en jy) ’n gelykvormigheid kom. Dat ek en jy met ’n gefokusde en onverdeelde hart net eén ding wil, en dit is God se wil.

Regdeur die geskiedenis, soos dit duidelik is deur die evangelie, is God se doen en late gefokus op verhoudings: tussen Hom en die mens, en ook tussen mense.
Vergifnis, versoening, vrygewigheid, genade, toewyding, hulp, bystand, teenwoordigheid, liefde, opoffering, sorg en konsekwentheid is alles woorde wat God se doen en late beskryf. Dit is Sy wil.

Is dit vandag jou wil? Is jou hart vandag gefokus op hierdie goed, onverdeeld en uitverkoop?

Om oor te dink:

  • Wat wïl jy graag vandag doen?
  • Tot watter mate is jou wil vir die dag en God se wil vir die dag gelykvormig aan mekaar?
  • Kan jy vandag binne enige verhouding/s doen soos God dit wil hê? (Kyk weer na die lys van woorde hierbo)

“If a man in truth wills the Good then he must be willing to suffer all for the Good.”
Søren Kierkegaard, Purity of Heart is to Will One Thing

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika