Woensdag 14 Desember 2022

Lukas 1:26-29
In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken.
‭‭
Om oor te gesels en dink
Kort nadat die engel aan Sagaria verskyn het, verskyn die engel ook aan Maria. Sy was ’n jong, onbekende maagd uit ’n klein dorpie Galilea. Maria was jonk, arm en in die destydse samelewing het haar vrouwees ook teen haar getel. Volgens die opvattinge van daardie tyd was sy nie geskik om vir enige iets noemenswaardig deur God gebruik te word nie. Tog kies God haar om haar te gebruik. Die engel spreek haar aan as “begenadigde” – in God se genade kies Hy haar.
Sy was verbysterd beteken dat sy as’t ware ’n oudit gedoen het oor wat met haar gebeur. Sy ondersoek en bedink wat besig is om te gebeur en maak erns daarmee. Al het Maria nie dadelik alles verstaan nie, het sy haarself oopgestel om te ontdek wat die Here van haar vra.
Ons dink ook soms dat ons nie belangrik genoeg is dat God ons kan gebruik nie. Weet dat jy ook sy begenadigde is en jy bruikbaar is daar waar jy vandag beweeg. Selfs al wonder jy waarmee die Here besig is, kan jy Hom daarmee vertrou.

Gebed
Here, dankie dat ek U genade mag beleef. Dankie dat U by my is. Ek wonder soms hoe dit is dat U my gebruik, maar mag ek vandag U liefde ervaar en deel waar ek gaan. Amen.

Nog om na te kyk

linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram