Lukas 7:18-35
22 Hy het vir Johannes se dissipels gesê: “Gaan terug na Johannes, en vertel hom wat julle gesien en gehoor het – blindes sien, verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word genees, dowes hoor, dooies word tot die lewe opgewek, en die Goeie Nuus word aan die armes verkondig. 23 En sê vir hom: ‘Gelukkig is hulle wat nie aan My aanstoot neem nie.’
(Lukas 7:22-23 NLV)
Om oor te gesels en dink:
Jesus hanteer Johannes se dissipels en hulle vraag met soveel deernis. Hy raas nie met hulle nie, maar moedig hulle aan om ooggetuies van wat Hy doen, te wees.
In Jesus se antwoord hoor ons Jesaja 61:1-2. Hulle beleef die vervulling van die Ou Testament in Jesus se werke rondom hulle en kan dit vir Johannes in die tronk gaan vertel.
Hierdie vertaling gee ‘n ander dimensie: gelukkig is hulle wat nie aanstoot neem oor wat Jesus doen nie, veral as dit anders is as wat mens dink.
As Johannes se volgelinge weggaan sê Jesus dat alhoewel Johannes ‘n belangrike persoon is, is elkeen wat na Jesus luister belangriker. Ons kan dus weet dat Jesus ons nooit sal verwerp nie, selfs al twyfel ons of voel ons verward.
Jesus moedig hulle en ons aan om te kyk waar Hy aan die werk is en lewens transformeer.
Gebed
Here Jesus, dankie dat U is wie U is en dat U werke dit wys. Mag ek U vandag raaksien. Mag ek vandag U liefde vir iemand wys. Amen.