Kolossense 4:5a
“Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is.”
Om oor te gesels en te dink
Paulus lê klem op hoe ons as Christene teenoor ander mense op tree. Nie alleen moet ons in gebed volhard en bid vir geleenthede om met mense die evangelie te deel nie, maar moet ons met wysheid optree, veral teenoor mense wat buite die gemeente is.
Christene word baie keer beskuldig dat hulle woorde en dade nie ooreenstem nie. Ons word opgeroep om seker te maak dat ons alle mense met respek en liefde sal hanteer. Soms moet ons ’n geleentheid skep waar ons vir mense kan dien met liefde wanneer hulle dit nie verwag nie. Andere kere moet ons die geleentheid aangryp om iemand te help in wysheid deur byvoorbeeld net ’n luisterende oor te wees. Wat ook al die geleentheid, vra die Here om jou vandag wysheid te gee. Mag mense jou liefde vandag ervaar.
Gebed
Here, ek bid vir wysheid vandag. Mag ek U liefde vir iemand wys met wie ek te doen het. Amen.