Titus 3:1-4
1Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. 2Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal. 3Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.
Om oor te gesels of te dink:
- Paulus skryf vir Titus wat met ‘n baie moeilike situasie sit. Die eiland van Krete is bekend vir hulle korrupsie, leuens, seerowery, diefstal, agterbaksheid en valsheid. Ten spyte daarvan, moedig Pauls Titus en die gelowiges aan om steeds gehoorsaam en bedagsaam te wees. Die rede hiervoor is dat die gelowiges eers soos die mense van Krete was. Nou is hulle wedergeboorte en weet hulle van beter. Hulle het eers God se genade ontvang net soos die mense van Krete God se genade kan ontvang. Omdat die gelowiges nou God se goedheid en liefde vir die mensdom beleef het, kan en wil hulle mos ook dit aan ander uitleef, ongeag of hulle dit verdien of nie.
- Het jy al ‘n belewenis gehad waar jy self, hierdie genade, goedheid en liefde vir die mensdom eerstehands beleef het? Is dit vir jou maklik om genade, goedheid en liefde vir die mensdom te kan leef? Selfs mense wat jy nie van mening is dit verdien nie? Deel jou hart met die Here.
- Een van ons versoekings as gelowiges is om te dink ons is beter as die sondaars, mense van die wêreld, armes, rykes, regeringsowerhede, ander nasie, kultuur. Ons het die waarheid en is vrygespreek. Die realiteit is wel dat hierdie tipe van gedagtes ook ‘n skeiding bring tussen ons en God. Ons het steeds genade nodig. Ons is in dieselfde boot as al die ander mense wat ons op afkyk. Ons het nie ‘n voet om op te staan nie.
- Vra die Here om jou hart te ondersoek. Is daar enige van hierdie gedagtes by jou teenwoordig. Is daar mense, waaroor jy dankbaar is, jy nie soos hulle is nie? Vra dat die Here jou die waarheid sal wys. Vra dat die Here jou sal leer om genade vir ander te gun, en ook jouself weer herinner dat die genade steeds vir jou nodig is.
Gebed:
Here van my lewe,
Ek erken dat ek ‘n mens is wat gebroke is en foute het. Here, ek erken dat ek dink ek is beter af, omdat ek U dien, anders as die verlore wêreld. Here, help my om weer te onthou dat my aanbidding van U, my nie beter maak nie. Help my om te onthou, dat selfs die aanbidding van U ‘n genade is wat ek onverdiend ontvang van U. Dankie Here dat U soveel genade vir my en ons almal gee.
Amen