Matteus 5:21-22
“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur.”
Om oor te gesels en te dink
Jesus kom wys ons die ware bedoeling van God se koninkryk. Ons harte moet verander om te doen wat God van ons vra. Die mense het hulleself maklik verontskuldig dat hulle nie moord pleeg nie, maar hulle het nie hulle woede beheer nie. Ons sukkel met woede. Die kwaad wees verwys hier na ’n smeulende, blywende bitterheid teen iemand. Die verwoes ons verhoudings met mekaar en ook met God. Dit is nodig dat ons met selfbeheersing oor ons harte sal waak en nie met woede rondloop nie. Dit vreet ons van binne af op.
Ons het nodig om ons woede vir God oor te gee en Hom te vra om ons harte te verander. So kan ’n verskil in Sy koninkryk maak.
Gebed
Here Jesus, soms kry my woede die oorhand. Ek wil vra dat U my hart verander. Ek wil in vrede met U en met die mense om my leef. Amen.