Lukas 15:17-19
“Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’
Om oor te gesels en te dink
Die jongste verlore seun kom tot inkeer. Hy wil na sy pa toe teruggaan. Hy wil vergifnis gaan vra vir wat hy teen sy pa gedoen het. Hy wil graag weer deel word van sy pa se huishouding, al sou hy nie as seun behandel word nie. Die belangrikste is dat hy wel gereageer het, toe hy besef het hy op sy einde is.
Ons is party maal soos die verlore seun en wil nie teruggaan na die Vader toe nie. Ons dink verskonings uit oor hoekom ons nie welkom is nie. Ons mis die geleentheid om weer in die Vader se teenwoordigheid te wees. Dit is net genade om tot die punt te kom om terug te keer en te weet dat die Vader ons sal aanvaar. Ons weet wat die Vader doen. Ons weet wie Hy is. Laat ons nie huiwer om terug te gaan na Hom toe nie. Hy wag vir ons.
Gebed
Vader, ek voel soms soos die verlore seun wat alles opgemors het. Ek voel U kan nie vir my lief wees nie. Help my om te weet dat U altyd vir my wag en ek welkom is. Amen.