Woensdag 22 Februarie 2023

Psalm 51:1-17
1Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid, na aanleiding daarvan 2dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba. 3Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid! 4Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde! 5Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. 6Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig. 7Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het. 8Maar U verwag opregtheid diep in 'n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. 9Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. 10Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel. 11Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit! 12Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. 13Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! 14Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien. 15Dan sal ek oortreders leer wat U van 'n mens verwag; dat die sondaars hulle tot U sal bekeer. 16Red my van ondergang, o God, my Redder, dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad. 17Here, gee my die woorde om u lof te verkondig.

rou VRAE:

  • Vandag is AsWoensdag. Ons tema: geseënd is die wat rou, sinspeel op die feit dat ons almal begin dink oor dit wat met Jesus gebeur het aan die kruis. Ons rou oor dit wat met Hom gebeur het. Ons is bewus dat ons ‘n hand in Sy kruisdood het, omdat Hy vir ons sondes gesterf het en daarom rou ons oor ons eie aandeel. Ons erken ook met hierdie tema dat ons rou oor ander goed in ons lewens. En meer as dit weet ons, dat God ons vra om rou en eerlik te wees oor ons situasies. Dat ons ophou om voor te gee en rou, eerlik, eg en opreg voor die Here staan met die lewens wat ons het, nie die lewens wat ons altyd voorgee om te h nie.
  • Dawid bely in hierdie Psalm sy skuld, sy tekortkominge, sy sondigheid, sy valse lewe wat hy nagejaag het. Hy erken dat Hy God benodig en afhanklik is van Hom. Hy erken dat sy eie rou, eerlike lewe ver tekort skiet. Dat hy menslik is, tydelik is, afhanklik is, en weerloos is. Hy doen dit omdat hy gekonfronteer is met God se grootheid, almag, en duursaamheid.
  • As jy met God se grootheid gekonfronteer word, en bewus word van jou eie tekortkominge en weerloosheid, voel jy meer duursaam of weerloos? Hoe laat dit jou voel en dink?
  • Wat het jy van God nodig om meer aan jou duursaamheid herinner te word? Wat het jy nodig, veral wanneer jy meer weerloos voel? Hoe gee God dit vir jou?

rou OEFENING:

  • Gebruik die olyfolie om vir jou ‘n kruis op jou hand of voorkop te trek. Laat dit jou herinner aan die duur prys wat God vir jou, rou en weerlose mens betaal het.

rou Gebed:
Here, op my beste dae, wanneer ek bekwaam en selfversekerd voel, herinner my aan my afhanklikheid van U. En die dae wanneer ek agterstevoor en onderstebo is met onsekerheid, herinner my aan U grootheid. Alhoewel my dae, vrese, gemoed en omstandighede altyd verander, bely ek U bly altyd getrou. 
Amen

Nog om na te kyk

PBO REGISTRASIE

930005265
Suid Afrika