Lukas 12:15, 20
“15Toe sê Jesus vir die mense: “Hoekom hardloop julle die hele tyd net agter geld aan? Die lewe gaan tog nie daaroor nie. ’n Mens se geluk hang mos nie af van hoeveel geld jy op jou naam het nie.”
“20“Maar hierdie ryk man het ’n verskriklike groot fout gemaak. Hy het God buite rekening gelaat. Op daardie selfde dag nog het God vir hom gesê: ‘Jou arme dwaas! Vannag nog sal jy doodgaan. En wat word dan van al jou baie besittings? Jy kan dit tog nie saam met jou na die doderyk toe vat nie.’”
Om oor te gesels en dink:
Hierdie is ‘n moeilike teks omdat ons onsself of daarin sien of dink dis nie op ons van toepassing nie. Ons dink nie aan onsself as ryk nie. In hierdie gelykenis is Jesus nie teen rykdom nie, maar op waar die fokus van die man was. Hy het net aan homself gedink en God buite rekening gelaat.
Partymaal tree ons ook so op deur in ons besluite God buite rekening te laat. Ons laat ook soms mense om ons buite rekening.
As ons die koninkryk van God verstaan, leef ons in ‘n ander ritme. Ons vra eerstens wat vir God belangrik is en rig ons lewens daarvolgens in. Ons leef met oop hande en harte. Ons dien, eerder as om gedien te word. Ons gee, eerder as om net te wil hê en vat. Ons geluk hang nie van hoeveel ons het of nie het af nie.
Neem ‘n oomblik van stilte.
Vra vir die Here waar jy meer op Hom en Sy koninkryk kan fokus, as om net op jouself te fokus.
Gebed
Here, dis nodig dat ek hierdie boodskap moet hoor. Mag ek meer op U fokus en wat vir U belangrik is. Maak my hart oop vir U en die mense om my. Amen.