Woensdag, 24 Mei 2023
Matteus 13:9
“Wie ore het, moet luister!”
VRAE:
- Hierdie frase is een wat Jesus gereeld gebruik het. Mens sou dink dat die proses van luister baie eenvoudig is. Dit is iets wat ons almal moet kan doen. Tog is dit nie so eenvoudig nie. Ons hoor dalk baie dinge, maar ons luister nie altyd nie. Om te luister beteken dat ons die boodskap hoor, dat dit deur ons werk en dat ons deur dit getransformeer word of kies om nie daardeur beïnvloed word nie.
- Jesus moedig mense aan om te luister na wat Hy sê. Dat daar verandering of reaksie op Sy boodskap is. Hoe lyk dit om te luister? Hoe weet jy wanneer iemand anders na jou geluister het? Hoe lyk dit wanneer jy nie net gehoor het nie, maar werklik geluister het na iemand? Deel jou hart met die Here.
- Wanneer jy luister, kan jy die persoon spieël? Dit beteken om vir die persoon terug te kan sê, in jou eie woorde, wat jy by hom of haar gehoor het.
- Kan jy beskryf wat jy sien in die ander persoon wanneer jy geluister het? Sien jy die liggaamstaal, die stemtoon, die ervaring van die persoon wat praat, wanneer jy luister?
- Kan jy beskryf hoe jy voel wanneer jy luister na iemand? Kan jy optel as daar by jou emosie gewek word?
- Kan jy kreatiewe oop vrae vra wanneer jy luister? Oop vrae is vrae wat meer as ‘n ja of nee antwoord gaan gee. Dit gee iemand die geleentheid om uit te brei op dit wat hulle deel. Dit maak ook dat jy nie net luister om te antwoord nie. Vra om te verstaan.
- Kan jy kritiek hanteer wanneer jy luister? Is jy bereid om eers die ander persoon se kant te verstaan, sonder om net te verdedig. Eers dan het ons ten volle geluister.
- Luister jy op hierdie manier na Jesus wanneer jy die Woord lees? Deel jou hart met die Here.
GEBED:
Here, ek wil so graag na U luister. Ek sukkel wel daarmee Here. Help my om beter te luister.
Amen