Jona 4:9-11
_ 9Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” 10Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 11Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”_
VRAE:
- Die verhaal van Jona loop tot ‘n hoogtepunt waarin ons ontdek waar God se hart lê. God se hart is by mense (en selfs die diere) wat Hy geskep het. God ken hulle elkeen by die naam. God het elkeen van hulle geskep en vir hulle omgegee. God het daarna verlang om in verhouding met elkeen te wees. God het groot vreugde beleef toe die hele stad van Nineve hulle bekeer en wegdraai van hulle sondige lewens.
- Soms loop mense rond met ‘n groot gat in hulle hart. Hierdie gat kan slegs deur God gevul word. Ken jy mense wat met so ‘n hqrt rondloop? Wat laat jou dink dat hierdie persoon ‘n gat in hulle hart het wat slegs deur God gevul kan word? Hoe bewys jy liefde aan hierdie mense?
- Hoe kan Jona se ervaring ons aanmoedig om God se liefde en genade aan alle mense en diere te bewys? Hoe lyk dit prakties in die wêreld waarin jy leef?
- Wat dink jy is God se droom vir mense wat tans nog nie vir God so goed ken nie? Waarom sou God hulle ook liefde wil bewys en genade gee? Hoe kan jy deel wees van die manier waarop God vir hierdie mense liefde bewys?
GEBED:
Here, help my om die waarde van elke siel raak te sien. Here, help my asb. om u boodskap aan elkeen te bring wat nog nie in ‘n lewende verhouding met God is nie. Here, help my veral om die mense raak te sien wat U die meeste nodig het. Here, help my dat ek nie in die pad staan van mense wat U liefde en genade benodig nie.
Amen