Psalm 8
“Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.
As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!”
Om oor te gesels en te dink
Hierdie Psalm help ons om te fokus op die skepping en wat ons elke dag om ons raak sien. Ons word herinner om die mooi raak te sien en dat God alles goed gemaak het. Ons kan onsself verwonder oor al die mooi dinge. Dis ’n keuse om dit raak te sien en God daarvoor te prys.
Verwonderde mense is dankbare mense. Wanneer ons dankbaar leef, sien ons die klein wonderwerke om ons raak. Die sonsopkoms, blomme wat oopgaan, voëls wat kwetter en so veel meer wys vir ons God is teenwoordig by ons.
Gebed
Here, dankie dat ek in verwondering oor U kan wees. Dankie vir alles wat U geskep het. Ek wil vandag daarop fokus om dankbaar te wees. Amen.