Matteus 13:24-30, 36-43
“Hy het nog 'n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met 'n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, het die onkruid ook sigbaar geword. Die slawe van die boer kom sê toe vir hom: ‘Meneer, het u nie goeie saad op u land gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan?’ Hy antwoord hulle: ‘Dit is 'n vyand se werk.’ Die slawe sê toe vir hom: ‘Wil u hê ons moet dit gaan uittrek?’ ‘Nee,’ sê hy, ‘as julle die onkruid nou bymekaarmaak, sal julle die koring saam uittrek. Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ” (Mat 13:24-30)
Om oor te gesels
Jesus vertel nog ‘n gelykenis oor koring en onkruid om die koninkryk te beskryf. Hierdie gelykenis is uniek aan Matteus. Jesus gee ook die betekenis bietjie verder in Matteus 13:36-43. Die koninkryk is nie ‘n geografiese plek nie, maar ‘n geestelike werklikheid.
Jong onkruid en jong koringplante lyk baie dieselfde. Die een kan nie van die ander voor oestyd onderskei word nie. Dit is nie vir ons om te oordeel nie, maar God.
Laat ons nie op die onkruid en die werk van die Bose fokus nie, maar op God aan wie die oes behoort. God aan wie die oes behoort is groter en magtiger.
As gelowiges word ons aangemoedig om te volhard omdat ons deel in God se koninkryk.
Gebed
Here, Koning van ons lewens, help my om getrou aan U te bly. Laat ek nie op die onkruid fokus nie, maar op U. Help my om vandag U koninkryk ook te laat kom waar ek vandag besig gaan wees. Amen.