Johannes 1:43
Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”
Om oor te gesels of te dink:
Ander Rabbi's het daarop gefokus om mense die wet van Moses te leer, maar Jesus vra iets meer. Hy vra sy dissipels om saam met Hom en naby aan Hom te beweeg. Om te leer wat Jesus doen deur dit saam met Hom te doen. Om Jesus te volg beteken om so inpas met sy ritme te wees dat ons wandel en beweeg waar Jesus doen.
Neem 'n oomblik van stilte
Waar beweeg God in jou daaglikse wêreld? En hoe word jy vandag opnuut uitgenooi om Jesus daar te volg?
Dit is nie maklik nie. Dit vra meer van ons as om net op ons eie stiltetyd te hou. Dit vra dat ons letterlik ons lyf sal skuif. Ons kan eintlik onsself daagliks afvra waarmee is God vandag in ons konteks besig en hoe kan ons daarby aansluit. Hoe kan ek Jesus vandag so in my wêreld volg dat ander God kan beleef?
Gebed
Here, my gebed is vandag eenvoud, maar as ek eerlik is dan mag ek dalk versigtig wees om dit te bid. Here, wys my vandag waar U in my wêreld wandel en besig is. Heilige Gees, help my om te beweeg en U te volg. Wys my hoe ek kan aansluit by dit wat U reeds besig is. Amen